ʼn 53-jarige vrou is Maandag in die Oos-Kaap in hegtenis geneem nadat sowat 880kg dagga in haar besit gevind is.
Lt.kol. Mzukisi Fatyela, ʼn polisiewoordvoerder, het Dinsdag gesê ʼn verdagte voertuig is in Mthatha deur die polisie van die pad af getrek. “Die bestuurder van die kombi waarvan die sitplekke verwyder is, het uitgespring en weggehardloop en die vrou in die kombi gelos. Die polisie is nog op soek na die bestuurder,” het Fatyela gesê.
Volgens Fatyela het die dagga ʼn geskatte straatwaarde van R880 000. Die vrou moet Dinsdag in die Mthatha-landdroshof verskyn.