Die polisie van die Wes-Kaap het Saterdag ʼn man in hegtenis geneem nadat onwettige vuurwapens in sy besit gevind is.
Kapt. FC van Wyk, ʼn polisiewoordvoerder, het Sondag gesê die man is in Kasougastraat in Manenberg in hegtenis geneem.
“Die polisie het Vrydag inligting ontvang dat die man onwettige vuurwapens in sy besit het. Hulle het die huis deursoek en op drie vuurwapens afgekom wat onder ʼn bad in die huis se badkamer weggesteek was,” het Van Wyk gesê.
Die polisie het op ʼn 9mm-pistool, ʼn R5-geweer en ʼn AK47 beslag gelê. Die R5-aanvalsgeweer is in 2011 van die Parow-polisiestasie gesteel. Die AK47 is in 1999 in KwaZulu-Natal as gesteel aangemeld.
ʼn 34-jarige man gaan na verwagting Maandag in die Athlone-landdroshof verskyn op aanklagte van die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.