Man met speelgoedgeweertjie doodgeskiet

Argieffoto

Die polisie het ‘n man doodgeskiet wat glo ‘n speelgoedgeweer in Willowvale in die Oos-Kaap op hulle gerig het.

Kapt. Jackson Manatha, woordvoerder vir die polisie, het gesê die man was deel van ‘n groep van agt mans wat Saterdagmiddag besig was om by ‘n huis in Nkelekethe in te breek, toe die polisie hulle betrap het. “Twee van die mans het gevlug, maar die beamptes kon die ander vang,” het Manatha gesê. Die beamptes het die twee voortvlugtendes agterna gesit en hulle het een van hulle vasgekeer. Hy het ‘n vuurwapen te voorskyn gebring en na die polisie toe gehardloop wat toe op hom losgebrand het. “Die polisie het ter selfverdediging opgetree, en het die man doodgeskiet,” het Manatha bygevoeg.

Die polisie het eers later besef dat die vuurwapen ‘n speelding was. Die man het glo ook ‘n mes by hom gehad.

Die mans sal binnekort op aanklag van huisroof in die landdroshof in Willowvale verskyn. Die mans kan glo ook aan ander huisbrake in die gebied gekoppel word. Die agtste man is steeds op vrye voet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.