Man moet Westdene-slagoffers se grafte skrop ná Facebook-uitlatings

Khumalo se Westdene-uitlating op Facebook

Zama Khumalo, die 24-jarige man wat op Facebook geskryf het hy gaan ʼn “Groot Swart Braai” hou ter viering van die dood van wit kinders in die Westdene-busramp, sal na verwagting Woensdagmiddag die slagoffers se grafte besoek en skoonmaak.

Khumalo het ingestem om familielede van die slagoffers te help om hul grafte in die Westpark-begraafplaas skoon te maak en ruikers te lê.

Dit is deel van ʼn skikkingsooreenkoms wat deur die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) bereik is nadat verskeie klagtes teen Khumalo se uitlating by die kommissie aanhangig gemaak is. Die volle vereistes van die skikkingsooreenkoms is nog nie in die stadium bekend nie.

Isaac Mangena, woordvoerder van die kommissie, het 7 Februarie aan Maroela Media gesê verskeie klagtes is teen Khumalo ontvang ná sy Facebook-plasing.

Khumalo het aan die einde van Januarie aan sy 493 Facebook-vriende gesê dat die braai op 27 Maart, die herdenking van die ramp, gehou sou word. Khumalo het die name van 24 van die 42 slagoffers genoem en gesê die sterftes word “baie waardeer, my Here.” Die kinders is dood toe ‘n skoolbus op 27 Maart 1985 in die Westdene-dam in Johannesburg beland het. Daar sou ook platejoggies en vuurwerke by die “braai” gewees het. Khumalo het op 2 Februarie om verskoning gevra vir die plasing en gesê dat hy verskeie dreigemente ontvang het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.