Man oorleef luiperd-aanval

Gerrie Camacho en sy verloofde, Amanda van Zyl. Foto: Buks Viljoen, Beeld

Gerrie Camacho, ‘n roofdierkenner van die Mpumalanga Toerisme- en Parkeagentskap (MTPA) sterk tans in die Nelspruit Mediclinic aan nadat hy deur ‘n luiperdwyfie aangeval is.

Camacho was Saterdag in die Black Leopard-kamp in die Thaba Tholo-privaatreservaat saam met ‘n groep dierekenners en filmmaker Dairen Simpson, toe die luiperd hom aangeval het, berig Beeld. Die groep was besig om ‘n dokumentêr vir National Geographic te verfilm. Hulle het die luiperdwyfie in ‘n strik gevang en wou haar verdoof om ‘n navorsingshalsband vir haar aan te sit.

Net voordat die veearts die dier met die doofpyl kon skiet, het die luiperd opgespring en Simpson bestorm. Sy het hom met diep snymerke aan sy maag en linkerarm gelaat. Die luiperd het die bos in gehardloop toe ‘n waarskuwingskoot gevuur is.
Terwyl Simpson hospitaal toe geneem is, het Camacho saam met sy kollega, Brandon Mandy, die bos in geloop om te sien of die luiperd gewond is. Hulle het net ‘n haelgeweer en twee patrone by hulle gehad.

Terwyl Camacho wou teruggaan om ‘n jaggeweer te versoek, het hy ‘n lawaai in die bos gehoor en omgevlieg. “Ek het ‘n geel streep gesien toe die luiperd op my afstorm,” het Camacho gesê. “Ek het die geweerloop in haar bek probeer druk en ‘n skoot probeer skiet. Die skoot het nie afgegaan nie en die luiperd het my aan die linkerarm gegryp.”

“Dis soos om met ‘n “liquidiser” toe baklei; dit is oral skerp, jy weet nie hoe om jouself te verdedig nie,” het Camacho gesê.

Terwyl Camacho gesukkel het om die haelgeweer reg te maak, het sy hom weer getakel. “As dit nie vir Brandon was wat haar verwoed met ’n stuk stomp begin slaan het nie, was ek vandag dood,” het hy bygevoeg.

Toe die dier Camacho vir die derde keer aanval, kon hy ’n skoot in die haar gesig afvuur. Die dier is teen die wal af en het in die bos verdwyn.

Die luiperd se karkas is later gevind.

Camacho, wat in die Mediclinic in Nelspruit aansterk, is in 1988 deur ’n leeu aangeval. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.