Man op foto het kind glo betaal om só te poseer

Die foto wat op "Eugene Terrorblanche" se Facebook-profiel verskyn het.

Die Valke het aan Beeld bevestig dat die man wat in ʼn opspraakwekkende foto verskyn waarin hy met ʼn geweer oor die liggaam van ʼn swart kind staan, die kind glo betaal het om só te poseer.

Die foto het glo reeds in 2007 onder die aandag van die polisie gekom. Die foto het Sondag weer opnuut opslae gemaak nadat die Sunday Times dit op sy voorblad gedra het. Volgens Beeld het die foto in 2008 op ʼn Facebook-profiel verskyn genaamd “ek laaik nie n (sic) houtkop nie sou (sic) what”. Die groep is glo deur studente van die Noordwes Universiteit begin. Die Universiteit het destyds stappe teen die betrokke studente geneem en een van die studente is geskors terwyl klagtes teen die ander ses teruggetrek is. Die foto het weer in Junie verlede jaar opgeduik op die profiel van “Eugene Terrorblanche”. Die Valke se woordvoerder, McIntosh Polela, sê hy sal moontlik vandag uitvind wat die uitkoms van dié ondersoek was. Die minister van polisie, Nathi Mthetwa, se woordvoerder, Zweli Mnisi, sê die minister het gevra dat ʼn ondersoek gedoen word en dat die persoon wat die foto op Facebook geplaas het of enigiemand wat die persoon ken na vore moet kom. Mnisi sê indien die foto ʼn regte voorval uitbeeld moet diegene wat verantwoordelik is gestraf word. Hy sê enigeen wat deels verantwoordelik is vir die publisering van die foto, die profiel geskep het of diegene wat dit gesien het en dit nie aangemeld het nie, kan vervolg word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.