Man op Zuma-parool verkrag ouma voor kleinkinders

Die bejaarde vrou se rondawel. Foto: Sowetan

‘n Man wat op paroolwas as gevolg van president Jacob Zuma se tronkstraf-kwytskelding, het glo vroeër die week ʼn 94-jarige vrou voor haar kleinkinders verkrag. Hy is skaars ʼn maand terug vrygelaat.

Zuma het in sy Vryheidsdag-toespraak op 27 April die land meegedeel dat sowat 35 000 gevangenes se tronkstraf verminder sal word. Vincent Mdunge, ʼn polisiewoordvoerder van KwaZulu-Natal, het aan die Sowetan bevestig dat die 30-jarige man wat van die verkragting aangekla word, onder die gevangenes was wat by die spesiale kwytskelding gebaat het.

Zuma het in sy toespraak verduidelik dat die kwytskelding verleen word om oorbevolking in tronke te verminder. Veroordeelde moordenaars, verkragters en dwelmhandelaars het nie vir die spesiale vergunning kwalifiseer nie.

Die verdagte het glo Maandagaand die deur afgeskop van die vervalle rondawel waarin die bejaarde vrou saam met haar kleinkinders in Swayimane, in die Midlands-omgewing, gebly het. Hy het haar glo verkrag terwyl die kinders, onderskeidelik 7 en 12 jaar oud, op dieselfde bed was. Die vrou het intussen uit vrees uit haar huis gevlug.

Volgens Mdunge is die man Dinsdag in hegtenis geneem. Hy sê voorts hy glo dat die man die daad opsetlik gedoen het om terug te gaan tronk toe. “Hy is jare terug deur sy familie onterf en het nêrens heen gehad om te gaan nie. Nadat hy vrygelaat is, het hy in die gebied in ʼn bos gebly,” het Mdunge gesê.

Lees meer hier

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.