ʼn Man het homself na bewering Woensdag in die kop geskiet langs ʼn besige hoofweg in Pretoria.
Vanessa Jackson, ʼn woordvoerder van ER24, het aan Maroela Media gesê die man was reeds dood toe paramedici by die toneel opgedaag het. Die man is in die kop geskiet.
Die voorval het omstreeks 12:00 op die R21-snelweg tussen Nelmapiusweg en die Olifantsfonteinafrit plaasgevind.
Kaptein Pinky Tsinyane, ʼn woordvoerder van die Gautengse polisie, het gesê die polisie is besig om die voorval te ondersoek. Hulle ondersoek gerugte dat die man besig was om te bestuur toe die voorval plaasgevind het. ʼn Geregtelike doodsondersoek is aangevra.