Man raak vermis op Shosholoza Meyl-treinrit

Henry van Niekerk Foto: Missing Minors The Pink Ladies Organisation, Facebook

Henry van Niekerk Foto: Missing Minors The Pink Ladies Organisation, Facebook

Henry van Niekerk (74) van Kuilsrivier in die Wes-Kaap, het tussen Kaapstad en Johannesburg vermis geraak terwyl hy op die Shosholoza Meyl-trein gereis het.

Van Niekerk onderneem al dié reis elke jaar sedert hy uit die Spoorweë afgetree het. Hy het egter Vrydag, terwyl hy saam met sy vriend, Basil Leseur, gereis het, vermis geraak.

Jurgen Visser, sy skoonseun, het aan IOL gesê niemand is seker waar Van Niekerk vermis geraak het nie. “Hy het Vrydagaand omstreeks 22:00 met sy vrou gesels en gesê hulle is in De Aar.” Visser het egter aan die familie gesê toe hy omstreeks middernag wakker geword het, het hy besef Van Niekerk is nie daar nie. Hy het mense op die trein in kennis gestel en hulle het na hom begin soek.

Volgens Visser het die soektog voortgeduur toe die trein Saterdagmiddag in Johannesburg aangekom het.

Die familie het Van Niekerk se bagasie Maandag ontvang. “Alles was daar, behalwe sy nagklere,” het Visser aan IOL gesê. “Dit beteken hy moes sy nagklere aangehad het toe hy vermis geraak het.”

Die familie is bekommerd dat hy óf afgegooi óf van die trein afgeval het. Die polisie en helikopters deursoek tans die gebied tussen De Aar en die Oranjerivier.

Shosholoza Meyl het nog nie kommentaar gelewer nie. Volgens sers. Binedell, woordvoerder van die polisie, staan die maatskappy wel die polisie by in hul soektog. “ʼn Groot soektog is van stapel gestuur,” het Binedell aan Maroela Media gesê.

Van Niekerk is ongeveer 1.6m lank en het ʼn tattoe op sy voorarm “Mom and Dad”.

Indien enigiemand meer inligting het word hulle versoek om met die polisie in Kuilsrivier in verbinding te tree deur 021 900 2845 te skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

leon ·

wat vir my snaaks is,die enigste trein wat 22:00 op de aar aankom is trein 17005 {regte aankoms tyd 22:20} as die person met trein 17007 gereis het,so hy eers om 23:30 {regte tyd} op de aar gewees het.tr 17007 vertrek Hutchinson om 21:40 en aankoms op merriman 22:20 en vertrek weer om 22:24 aankoms de aar 23:30

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.