Man sê helfte van Facebook is syne

Paul Ceglia se rekening op Facebook

ʼn Man van New York se multi-miljard dollar hofsaak waarin hy aanvoer dat hy geregtig is op halwe eienaarskap van Facebook Inc., is Dinsdag deur ʼn federale regter van die hand gewys.

Regter Leslie Foschio het gesê die kontrak, waarop Paul Ceglia se hofsaak baseer is, is vervals. Dié sosialemedia-maatskappy en sy stigter, Mark Zuckerberg, het onlangs aangevoer hulle het 1 miljard gebruikers en dat die maatskappy sowat $50 miljard werd is.

Ceglia (39) het in 2010 die maatskappy gedagvaar en beweer dat hy en Zuckerberg, toe ʼn student by Harvard-universiteit, ʼn sagtewareontwikkelingskontrak in 2003 onderteken het wat halwe eienaarskap van Facebook aan Ceglia toeken in ruil vir $1 000 beleggingsfondse vir die jong maatskappy.

Die regter het bevind dat die twee wel ʼn kontrak onderteken het, maar dat enige verwysings na Facebook eers later bygevoeg is. Hy het na ʼn afskrif van die oorspronklike kontrak, gedateer 28 April 2003, verwys wat op ʼn hardeskyf opgespoor is terwyl die hofsaak voortgeduur het. Ceglia het die kontrak in Maart 2004 per e-pos na ʼn prokureur gestuur, jare vóór sy hofgeding teen Facebook en Zuckerberg.

Die regter stel voor dat die saak nou na ʼn distriksregter verwys moet word, wat enige besware sal oorweeg voordat hy die besluit sal wysig of aanneem.

“Vandag se besluit bevestig wat ons van dag een af gesê het: hierdie hofgeding is ʼn onvergeetlike bedrog gebaseer op vervalsde dokumente,” het Colin Stretch, woordvoerder van Facebook se regspan, gesê. “Ons is tevrede dat die hof saamstem.”

Telefoonoproepe na Dean Boland, Ceglia se prokureur, het onbeantwoord gebly.

ʼn Federale akte van beskuldiging uit New York City het Ceglia in November van pos- en telekommunikasiebedrog beskuldig ná ʼn ondersoek deur die Amerikaanse Posinspeksiediens aangevoer het dat Ceglia bewyse gedokter, fabriseer en vernietig het om sy aantygings in die 2010-hofsaak te ondersteun. Hy het onskuldig gepleit. Preet Bharara, prokureur van Manhattan, het in die tyd van die beskuldiging gesê Ceglia is op soek na ʼn “vinnige betaaldag gebaseer op ʼn oorlopende vervalsing”. Indien hy skuldig bevind word, kan Ceglia tot 40 jaar tronkstraf opgelê word.

Zuckerberg is na raming sowat $13.3 miljard werd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.