ʼn Man van die Wes-Rand is in hegtenis geneem nadat hy drie mense geskiet het tydens ʼn rusie oor parkeerplek by ʼn laerskool.
The Times Live berig die insident het Maandagaand in die parkeerterrein van Laerskool Culembeeck in Witpoortjie plaasgevind. Die skool het hul prysuitdeling gehou en die argument het uitgebreek kort nadat die slagoffers en hul kinders by die skool aangekom het vir die geleentheid.
Luitenant-kolonel Katlego Mogale sê twee vroue en ʼn man is geskiet en gewond. Hulle is in ʼn stabiele toestand in die hospitaal. ʼn 42-jarige man is kort daarna in hegtenis geneem en moet Woensdag in die Roodepoort-landdroshof verskyn op ʼn aanklag van poging tot moord.