Man skiet polisielede en homself

‘n Polisiebeampte en twee lede van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) is Vrydagaand geskiet terwyl hulle ‘n huis in Randfontein, Gauteng, deursoek het.

Luienant-kolonel Katlego Mogale, ʼn polisiewoordvoerder, sê ‘n 59-jarige man het glo op die beamptes met ʼn rewolwer losgebrand, terwyl hulle sy huis vir ongelisensieerde vuurwapens deursoek het.

“’n Skietery het uitgebreek waarna die man glo homself in ‘n kamer toegesluit en homself doodgeskiet het.”

Die polisiebeampte (37) en GPF-lede (albei 27) sterk tans in die hospitaal aan. Hul toestand is ernstig, maar stabiel. Volgens Mogale is die man se seun Vrydag saam met ‘n vriend in hegtenis geneem nadat ‘n ongelisensieerde 9mm-pistool in hul voertuig gevind is. “Inligting het die polisie na die ouer man se huis gelei,” het Mogale gesê.

Die polisie ondersoek aanklagtes van poging tot moord en die besit van ongelisensieerde vuurwapens.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.