Man skiet vier, pleeg selfmoord

ʼn Man van Noordwes, wat tereggestaan het op ʼn aanklag van aanranding, het Vrydag in die vroeëoggendure vier mense geskiet en daarna glo selfmoord gepleeg.

Kol. Emelda Setlhako, ʼn polisiewoordvoer, sê die voorval het in die Rasimone informele nedersetting naby Phokeng plaasgevind. “Na wat verneem word, het die man tereggestaan op ʼn aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer nadat hy sy meisie in November 2012 geslaan het,” het Setlhako gesê.

Volgens Setlhako is die Phokeng-polisie ontbied nadat hulle ʼn klagte ontvang het dat die 35-jarige man moles maak by ʼn blok plakkershuise in die gebied waar sy meisie gebly het. “Die polisie het hulle na die gebied gehaas en toe hulle daar aankom, het inwoners vir hulle gesê die man het weggehardloop toe hy die polisie sien. Die meisie het aan die polisie bevestig die verdagte is haar voormalige kêrel teen wie sy die klag gelê het.” Sy het aan die polisie gesê dat hulle steeds besig is met hofverrigtinge in die Bafokeng-landdroshof in Tlhabane en dat die saak verkuif is na die streekshof weens die erns van die saak. Die saak sou 5 Maart hervat het.

“Die man het haar Vrydagoggend versoek om die saak terug te trek. Hy het haar met ʼn geweer gedreig toe sy geweier het. Die polisie het haar versoek om na die stasie te gaan vir haar eie veiligheid, maar sy het geweier en gesê sy sal by ʼn vriend gaan bly,” het Setlhako bygevoeg.

Die polisie het daarna na die man begin soek. Hulle was nog besig met die soektog toe hulle weer ʼn oproep kry om te sê die verdagte is  terug op die toneel. “Toe hulle daar aankom, was die plakkershuis se deur gesluit. Hulle het gehoor daar is ʼn rusie en het kort daarna ‘n geweerskoot en ʼn gil gehoor. “Die polisie het die deur afgebreek en die man in ʼn plas bloed aangetref. Daar was ʼn 9.mm-pistool in sy hand. Hy is op die toneel dood verklaar.” Die man het voor die voorval drie ander mense geskiet waarna hy sy meisie se huis gegaan en haar in haar maag geskiet het, voor die polisie weer op die toneel verskyn het.

Die vier slagoffers is na die Job Shimankane Tabane-hospitaal in Rustenburg geneem.

Die polisie ondersoek vier aanklagte van poging tot moord en ʼn geregtelike doodsondersoek word gedoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.