
Clint Walley saam met sy 2-jarige dogtertjie Isabella. Die foto is vroeër vanjaar uitgereik nadat Isballe deur Walley ontvoer is.
ʼn Man wat vroeër vanjaar opslae gemaak het toe hy sy twee-jarige dogtertjie ontvoer het, het die ma van sy kind doodgeskiet voor hy met dieselfde pistool selfmoord gepleeg het.
Clint Walley het in Januarie vanjaar sy dogtertjie, Isabella, van haar kleuterskool ontvoer en na Kimberley gevlug. Hy is elf dae later vasgetrek en in hegtenis geneem. Hy is later op borgtog vrygelaat. Walley en Catherine Krog, sy gewese vrou en die ma van sy kind, se liggame is Donderdagoggend in haar huis in Mount Edgecombe buite Durban gevind. ʼn Polisiewoordvoerder, kapt. Thulani Zwane, sê die moord is glo ten aanskoue van klein Isabella gepleeg. Sy is sonder beserings op die toneel gekry saam met Krog se neef, Sean Austin. Walley het glo ʼn selfmoordbrief geskryf, wat hy met sy selfoon afgeneem het en Donderdagoggend voor die moord aan ʼn verslaggewer van die Citizen gestuur het. Die joernalis het die polisie in kennis gestel waarna die gru ontdekking gemaak is. Die brief het begin met ʼn opskrif, “ Isabelle is vry”. Walley en Krog het die afgelope vyf jaar ʼn stormagtige verhouding gehad.