Man skuldig aan moord op buurtwaglid

Mandla Ntuli (30) is Maandag skuldig bevind aan die moord op Louis Viljoen (39).

Die hooggeregshof in Pretoria het Ntuli ook skuldig bevind aan poging tot moord, aanranding, roof met verswarende omstandighede en die onwettige besit van ʼn vuurwapen. Viljoen, ʼn lid van die Mnandi-buurtwag, is op 2 Februarie 2009 doodgeskiet tydens ʼn rooftog by die Mnandi-Spar in Centurion. ʼn Groep gewapende rowers het by die Spar ingebars en geld en kliënte se selfone gesteel. Andre Erlank sr., ook ʼn lid van die Mnandi-buurtwag, was buite die Spar in sy bakkie en het lede van die buurtwag gekontak nadat hy onraad vermoed het. Een van die rowers het Erlank se bakkie se passasiersdeur oopgeruk en hom in die bors geskiet. Viljoen het Erlank se noodoproep gekry en na die toneel gehaas. Die rowers het op hom losgebrand en hy is noodlottig gewond.

Msimeki se medebeskuldigdes, Mzaokhona Sipho Nene en Sbusiso Sfiso Sibiya, is steeds op vrye voet nadat hulle op borg vrygelaat is en gevlug het. Die hof het vroeër gehoor dat die Spar se eienaar van R19 000 en sy selfoon beroof is. Die rowers het talle kliënte van hul beursies en selfone beroof. Hulle het ʼn swanger kassier rondgepluk en het dit tot gevolg gehad dat sy haar baba verloor het. Corne Prius, die staatsaanklaer, het aangevoer dat Ntuli lewenslank tronk toe gestuur moet word. Surita Joubert, vir die verdediging, voer aan dat Ntuli ʼn ligter vonnis moet ontvang aangesien hy reeds sowat vier jaar in die tronk is en aangesien hy ʼn eerste oortreder is en vier jong kinders het om te onderhou. Ntuli sal Woensdag gevonnis word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.