Man skuldig bevind op dubbele plaasmoord

ʼn Man is Dinsdag in die hooggeregshof in Pretoria skuldig bevind dat hy sy voormalige werkgewers op hul plaas vermoor het.

Regter Cynthia Pretorius het Akona Innocent Ginni (30) skuldig bevind op die moord van melkboer Johannes van den Bosch (63) en sy vrou Jacobi (60). Die moord het op hul plaas Mooiplaats, oos van Pretoria in April 2009 plaasgevind. Gini is ook skuldig bevind op die aanklag van roof met verswarende omstandighede nadat hy die egpaar se selfone en ʼn stel sleutels gesteel het.

Gini se verhoor moes van voor af begin nadat die vorige regter, regter Belinda Molamo, in Augustus verlede jaar gesterf het. Gini het eers vir die egpaar gewerk, maar is ses maande voor hul moord afgedank ná ʼn rooftog op die plaas. Die Van den Bosch’e, wat 12 kinders en 27 kleinkinders gehad het, het in 1982 na Suid-Afrika verhuis om ʼn melkplaas te begin. Hul seun, Wim, wat steeds op die plaas bly, het op hul lyke afgekom.

Van den Bosch is doodgeslaan terwyl hy na die kalwers omgesien het. Sy vrou is dood nadat sy verskeie kere met ʼn mes gesteek is.

ʼn Selfoonverslag het die polisie na ʼn adres in Witbank gelei waar hulle Gini se vrou, Violet, gevang het waar sy Johannes van den Bosch se selfoon, met ʼn nuwe simkaart, in haar besit gehad het. Violet Gini het inligting aan die polisie verskaf wat tot haar man se inhegtenisname in ʼn plakkerskamp naby Witbank gelei het. Hy het Jacobi van den Bosch se selfoon in sy sak gehad. Gini het later die toneel van die misdaad aan die polisie uitgewys.

In die hof het Gini beweer dat die polisie nooit sy reg om stil te bly aan hom uitgewys het nie, en hom glo aangerand het. Hy het ontken dat hy die toneel aan die polisie uitgewys het en gesê dat hy niks aan die polisie gesê het nie.

Pretorius het egter bevind dat sy regte wel aan hom verduidelik is en dat hy glad nie gedwing is nie en dat hy die toneel uit vrye wil uitgewys het. Sy het ook Gini se bewering dat hy ʼn alibi vir die moorde het verwerp, aangesien dié bewering reeds tydens die eerste kruisverhoor gemaak is en dat nie Gini se vrou of enige ander getuie dit kon staaf nie. Pretorius het Gini as ʼn oneerlike en ontwykende getuie beskryf wat sy getuienis verander het om die feite te staaf.

Alhoewel dit hoofsaaklik omstandigheidsgetuienis was wat Gini aan die moorde verbind het, kon sy alibi nie ernstig opgeneem word nie en daar was geen ander redelike gevolg buiten dat Gini wel die misdade gepleeg het nie.

Van den Bosch se seun Wim, wat die hofverrigtinge saam drie van sy broers en ʼn suster bygewoon het, het aan verslaggewers gesê dat die moorde hom verlam het en dat hy totaal hulpeloos voel. Hy herleef steeds in die fynste besonderhede die oomblik toe hy op sy ouers se liggame afgekom het en hy voel dat geen terapeut voldoende met sy omstandighede kan empatiseer nie. “Hy moet definitief sy straf uitdien… Daar is geen rede waarom ek hom ooit weer hoef te sien nie,” het Wim gesê.

Die verhoor is tot 4 Junie uitgestel vir verdere polisie-ondersoek nadat Gini geweier het om sy vorige vier skuldigbevindings vir huisbraak te erken. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.