Man slaan nuwe blaadjie om ná hy hond lewendig begrawe

Argieffoto

ʼn Man wat ʼn hond lewendig in Kaapstad begrawe het, werk nou as ʼn vrywilliger by ʼn plaaslike dierekliniek nadat hy glo daar sy ‘roeping’ gevind het.

Die Cape Argus het Maandag berig die hond, Lily, wat die traumatiese voorval oorleef het, het Poto Mfengu met afsydigheid hanteer toe hy haar Vrydag by die Mdzananda-dierekliniek besoek het.

Lily is in Oktober 2011 in ʼn gat by ʼn skool in Khayelitsha gevind. Die hond het probeer om uit die gat te klim en het glo na asem gesnak toe sy gevind is. Verdere ondersoek het bevind dat Mfengu en Mkhumbuzi Ncedana, wat as nutsmanne by die skool gewerk het, die dier lewendig begrawe het.

Mfengu het later in die hof gesê hy is deur sy vorige werknemer, die skool se hoof, beveel om die hond te begrawe omdat sy in een van die klaskamers gemors het. Die hoof het glo beveel om ʼn gat naby die skool se tennisbane te grawe en die hond daarin toe te gooi. “Ek was bang ek sou my werk verloor en het my werk nodig gehad,” het Mfengu tydens sy besoek aan Lily aan die Cape Times gesê.

Albei nutsmanne het onlangs 150 ure lank gemeenskapsdiens aan die dierekliniek voltooi. Mfengu het besluit om as vrywilliger by die kliniek aan te hou werk en sê hy het uiteindelik sy roeping gevind.

Manono Makhaphela, die skoolhoof, word onder die Wet van Dierebeskerming aangekla dat hy die dier gemartel en onnodige leed veroorsaak het. Hy moet na verwagting op 10 Mei in die hof verskyn.

Klik hier om ‘n foto van Lily en Mfengu te sien.

Sapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.