Man steel R15 miljoen by Alzheimer-kliënt

ArgieffotoJohn Julyan, ‘n voormalige verhoudingsbestuurder van Barclays Wealth, ‘n afdeling van Absa, is Maandag op 39 aanklagte van diefstal ter waarde van R15 miljoen skuldig bevind.

Die Bellville gespesialiseerde handelsmisdaadhof het Julyan ook skuldig bevind aan geldwassery. Hy sal op 2 Desember deur landdros Amrith Chabilall gevonnis word. Hy is tot dusver vrygelaat op ‘n waarskuwing.

Asghar Mia, Julyan se prokureur, het die hof versoek om die waarskuwing te verleng of om hom op borg van maksimum R2 000 vry te laat, aangesien dit die maksimumbedrag is wat Julyan kan bekostig. Staatsaanklaer Juan Agulhas het gesê Julyan moet in aanhouding bly totdat die saak hervat.

Landdros Chabilall het gesê die omstandighede het van Maandag af drasties verander van die stadium waar Julyan vermoedelik onskuldig was. “Jy is skuldig bevind aan diefstal van R15 miljoen en in enigiemand se taal is dit baie geld,” het hy aan Julyan gesê. “Jy sal in aanhouding bly tot die saak hervat.”

Julyan was as verhoudingsbestuurder verantwoordelik vir die multi-miljoenrandse beleggings van wyle prof. Bryan Cremin, ‘n kliënt van Absa, wat voor sy afsterwe hoof was van radiologie by die Rooikruis-hospitaal in Kaapstad. Die professor het aan Alzheimer se siekte gely en kon nie meer self sy sake hanteer nie. Julyan was in beheer van sy beleggings. Hy het Cremin se geld gesteel om eiendom in Knysna en Constantia in Kaapstad aan te skaf.

Julyan het Cremin se fondse ook in sy eie vrou se sukkelende besigheid belê. Hy het ‘n boot gekoop wat hy by Knysna gemeer het en duur vakansies saam met sy vrou na Oostenryk onderneem. Hy het ook Cremin se geld gebruik om buitensporige bedrae aan sy ma oor te betaal om ‘n testament op te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Willy ·

Maroela, dit is darem maar grafstil hier by julle! Julle wou mos die mense so verban en weggejaag het. Ons het destyds lekker hier gekuier en die lagspiere geprikkel en ons was ‘n hele klomp gewees. Deels seker omdat julle nog “Sê jou sê, maar” op die blad het.
Sterkte vir julle met die min populariteit.

Erica ·

SJOE – het gedink ek is die enigste een wat sien dat die ander manne BAIE stil is en dat daar bitter min gesê word op die berigte…

Helene Heyns ·

Ja-nee ek moet sê dit is grafstil. Ekself het nie eintlik deelgeneem aan die kommentaarlewery nie, maar het dit elke dag gate uit geniet. Die klomp was werklik skerp en ek persoonlik mis hierdie saamkuiery baie. Ek het Trippie en Kie al amper as vriende beskou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.