Een man is dood en ʼn ander beseer nadat hul voertuig Sondagoggend in ʼn waterkanaal in Lilianton, Boksburg, beland het.
“Paramedici is omstreeks 05:00 na die toneel in Main Reefweg ontbied,” het Glen Orritt, woordvoerder van ER24, gesê. “Die voertuig het die pad verlaat, deur ʼn besigheid se grensdraad gebars en op sy dak in die kanaal beland.”
ʼn Man in sy 30s het reeds aan sy beserings beswyk en is op die toneel dood verklaar. “ʼn Tweede man, ook in sy 30s, was steeds in die voertuig vasgekeer en het matige beserings opgedoen, maar was in ʼn stabiele toestand,” het Orritt bygevoeg. Reddingstoerusting is gebruik om die man uit die voertuig te sny en hy is na ʼn nabygeleë hospitaal geneem.