Man sterf glo weens nalatigheid by Steve Biko-hospitaal

Phillip Pretorius ná byna 12 weke in die hospitaal.

ʼn Prokureur van Pretoria gaan die departement van gesondheid dagvaar nadat Phillip Jakob Pretorius glo weens nalatigheid by die Steve Biko-hospitaal dood is.

Nadia Roodt, van Nadia Roodt Prokureurs, het aan Maroela Media gesê ʼn nadoodse ondersoek het bevestig dat Pretorius (57) dood is weens bedsere wat net kon ontstaan as gevolg van nalatigheid van die verpleërs. In die nadoodse verslag, wat in Maroela Media se besit is, bevind die forensiese patoloog dr. Patricia Klepp, dat Pretorius gesterf het weens “septisemie in ʼn persoon met vermeende spinale spierdistrofie”.

Die Steve Biko-hospitaal het egter aangedui dat Pistorius se dood toegeskryf is aan septiese skok, bedsere, spinale spierdistrofie en vetsug.

Pretorius is op 14 Novemer 2012 in die Steve Biko-hospitaal opgeneem ná ʼn beweerde ligte beroerte. “In daardie stadium kon hy praat, bene beweeg en opstaan met ondersteuning. Ná twee weke het sy bene begin styf word en kon hy homself net optrek aan die relings langs sy bed,” het Roodt gesê. Drukmerke het op sy voete, boude en rug begin vorm en sy vrou het dit dadelik onder die personeel se aandag gebring, maar hulle het glo niks aan die saak gedoen nie.

Phillip Pretorius in gelukkiger dae.

“Ná nog twee weke het sy drukmerke begin verkleur en van dit het in gapende wonde ontaard. Druksere op sy rug was later so groot dat sy ruggraat sigbaar was en hy kon teen 17 Januarie nie meer praat nie. Hy is 22 Januarie dood,” het Roodt bygevoeg.

Roodt sê voorts tydens sy verblyf in die hospitaal was daar menige maal nie skoon linne nie en sy kos was soms te ver van sy bed gesit dat hy nie daarby kon uitkom om te eet nie. “Die personeel het dit dan net so weg gevat maar in sy lêer aangeteken dat hy wel geëet het. Sy vrou het ook paar keer in sy lêer gelees dat sy wonde skoongemaak en verbande geruil is, wanneer dit nie gebeur het nie. Sy vrou het langs sy bed gesit van begin tot die einde.”

Die gesin het, kort nadat Pretorius opgeneem is, ʼn Facebook-blad begin om mense te versoek om vir hom te bid. Op die blad kan duidelik gevolg word hoe Pretorius se toestand verswak.

Maroela Media het die voorval onder die hospitaalbestuur se aandag gebring. Dr. Mathabo Mathebula, die hospitaal se adjunk-uitvoerende hoof, het aan Maroela Media gesê die voorval sal ondersoek word, waarna die hospitaal terugvoer sal gee.

Lees die opvolgberig hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

l ·

As mens na die foto van die man in die bed kyk sien ek ‘n uitgeteerde man nie iemand met vetsug nie!

evanwyk ·

Die staatshospitale is glo so sleg, maar daar word nooit melding gemaak van die hospitale wat baie mense se lewens red nie. Waar ek werk sal die pasiente nie eens in privaat hospitale sulke goeie behandeling kry nie. Staatshospitale julle is puik!!!!!!!

Hendrik ·

Maar dit help ni hy het n hand vol goed en 5 hande vol sleg ni……. Di staat hospitale het oor di algemeen swak cliente diens en nursing! My vrou het n miskraam gehad as gevolg van hulle wat haar ni medies hulp gegee het ni! So se vir my hoe is dit fair?

Trudie ·

Dit is soos dit gaan in ons provisiale hospitale. As jy wil doodgaan, moet jy soontoe gaan. En daar word niks aan gedoen nie. Ons land is in sy hel in.

JCS ·

Wil graag net een vraag vra. Enige persoon wat reken hulle het die antw. kan my antw. Hoekom kan ‘n pasient wat agterkom dat daar ‘n gebrek aan mediese versorging in die hospitaal is waarin hy/sy opgeneem is hom/haar nie self uitboek en sy naastes kontak om/hom haar te kom haal nie???? “n Hospitaal is mos nie ‘n geheime internerings kamp nie…of hoe??

AnnaMarie ·

Mense ons staatshospitale is oorvol met n handjie vol personeel. Kan naasbestaandes wat langs hul beddens is, nie maar ook handjie bysit en help om kos te gee of om iemand om te draai nie, ek sou. Ek sou sowaar nie net daar sit en niks doen nie. Wag mens dan maar tot iemand eers doodgaan voordat jy iets onder iemand se aandag bring soos leuens wat in n lêer aangeteken word. . . Ek vra maar net. . .

Stefanie Schwartz (Pretorius) ·

evanwyk, jy leef in n droomwereld! Staatshospitale julle is puik?!? As dit die geval was sou my geliefde broer vandag nog hier gewees het om vir ons n toring van vertroue en liefde te wees soos wat hy dit in die lewe was! Waarop baseer jy puik? My broer se gesondheid het n knou gekry nadat hy 5 jaar gelede in Steve Biko n galblaasoperasie moes ondergaan en hulle sy lewer, onder andere, raakgesny het en hy daarna talle absesse opgedoen het wat aanhoudend gedreineer moes word! Jy moet wakker word en besef dat ons nie die enigste familie is wat al geliefdes verloor het weens swak, ontoereikende verpleging en pleinweg slegtigheid deur die verpleegpersoneel aan diens nie! Tydens Phillip se siekbed kon ons enige nag daar instap en vanaf die ontvangs tot in die saal stap sonder dat die slapende personeel van ons bewus is. Baie jammer vir die enkele goeie, getroue mediese personeel wat daar wel is, maar hulle is sonder twyfel n baie groot minderheid. Maak jy asb seker van jou feite voordat jy sulke snert kwytraak!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.