Man sterf in hysbak-fratsongeluk

Mark Isaac Smith Foto: IOL

Mark Isaac Smith (53), ʼn assistent hysbaktegnikus, is Woensdag dood ná die hysbak waaraan hy gewerk het, hom doodgedruk het.

Smith was besig om die hysbak by La Mercy Beach-hotel in Tongaat te herstel, toe die fratsongeluk plaasgevind het. Ooggetuies verskil oor presies wat gebeur het. Sommiges beweer dat die hysbak bo-op Smith geval het, en ander sê dat hy homself dood geval het nadat ʼn kabel gebreek het. Die voorval het glo tussen die vierde en vyfde verdieping van die hotel plaasgevind.

Smith se seun, Jonathan Mark Smith (32) het Donderdag gesê hulle verwag van die polisie en die departement van arbeid om ʼn volledige ondersoek te doen. “Ek het my pa se liggaam by die lykshuis gaan uitken, en dit was verskriklik. Hy is erg beseer. Ek wil nie eers die omvang van sy wonde beskryf nie,” het hy gesê.

Smith laat sy vrou en drie kinders agter: sy seun Jonathan, Sarah Jane (16) en Andrew Timothy (15).

Theo Kleinhans, voorsitter van die Hysbakinspekteursvereniging van Suid-Afrika, sê die voorvalle van hysbakongelukke en -sterftes was nog nooit so hoog soos in die afgelope vyf jaar nie. “In sommige gevalle is die hysbakke te oud en kan dit nie deur moderne tegnologie herstel word nie,” het hy gesê. Kleinhans sê talle voorvalle kan ook aan ʼn gebrek aan opleiding vir hysbakoperateurs toegeskryf word.

Jay Anand, woordvoerder van die departement van arbeid, sê inspekteurs sal die oorsaak van die ongeluk ondersoek. “Indien die voorval weens nalatigheid plaasgevind het, sal ons die persoon wat verantwoordelik is, opspoor,” het Anand gesê.

Klik hier om die oorspronklike berig deur IOL te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.