ʼn Man is dood en een beseer nadat twee voertuie laat Donderdagaand naby Welkom in die Vrystaat gebots het.
Volgens Jeffrey Wicks, ʼn woordvoerder van Netcare911, het die ongeluk by ʼn kruising op die Kroonstadpad gebeur. “Dit is nog nie bekend watter een van die voertuie die ongeluk veroorsaak het nie en sal deur ʼn polisieondersoek bepaal word. Een van die voertuie het voor die ander een by Jason’s Crossing ingery,” het Wicks gesê.
Een man is op die toneel dood verklaar. Die bestuurder van die ander voertuig het slegs geringe beserings opgedoen. Hy is met ʼn ambulans na die Bongani-staatshospitaal geneem.