ʼn Man is dood nadat bakstene van ʼn voetgangerbrug oor die N2-hoofweg naby Durban gegooi is en dit deur sy motor se ruit gegaan en hom teen die kop getref het.
Volksblad berig dat Mike Nannucci (71), ʼn bestuurder by Minnaar Security, Donderdag omstreeks 13:45 dood is. Die bakstene is van ’n voetgangerbrug naby Durban se ou lughawe gegooi op voertuie wat van eManzimtoti na die stad op pad was. Volgens die berig is niks uit Nannucci se voertuig gesteel nie. Volgens aanduidings het ’n motoris kort vantevore ’n soortgelyke lot vrygespring toe ’n voorwerp een van sy motor se voorste ligte getref het.