Man sterf na botsing teen swaarvoertuig

Een man is dood en ʼn ander ernstig beseer nadat die voertuig waarin hulle gery het Maandag teen ʼn swaarvoertuig in die Vrystaat gebots het.

Vanessa Jackson, ʼn woordvoerder van ER24, het gesê die ongeluk het op Haldonweg naby Bloemfontein gebeur. Daar word ook na die pad verwys as die Kimberley-pad, wat net na die N1-wisselaar is.

“ʼn Enkel-kajuit Isuzu-bakkie het teen die agterkant van die swaarvoertuig vasgery,” het Jackson gesê. “Die bakkie so voorkant was heeltemal teen die trok verfrommel en die bestuurder en passasier was in die wrak vasgekeer. Die bestuurder, in sy 40s, het die botsing oorleef, maar die passasier, in sy 60s, is ongelukkig met die trefslag dood. Die bestuurder is op die toneel gestabiliseer terwyl die brandweer hom uit die wrak gesny het.”

Die bestuurder is met ʼn ambulans na die Pelonomi-hospitaal geneem vir behandeling waar hy tans in ʼn kritieke toestand is. Die bestuurder van die swaarvoertuig is ongedeerd.

Die oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie en word deur die polisie ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.