Man sterf ná ‘dronkbestuurder’ van polisie vlug

ʼn Man is dood nadat ʼn vermeende dronkbestuurder agter in sy motor vasgejaag het terwyl hy van die polisie probeer vlug het.

Insp. Kobeli Mokheseng, woordvoerder van die Ekurhuleni-metropolisie, sê die voorval het vroeg Saterdagoggend in Wadeville, suid-oos van Johannesburg plaasgevind. Mokheseng sê inwoners het die metropolisie omstreeks 6:00 Saterdagoggend ontbied nadat ʼn man sy Ford Sierra se bande “op die teer gespin het.” Hy sê toe die metropolisie op die toneel aangekom het, het die 24-jarige man weggejaag en die polisie het hom agternagesit. Volgens Mokheseng het die man agter in ʼn ander motor vasgejaag en die 58-jarige bestuurder is op die toneel dood verklaar. Die oorledene se 32-jarige passasier het ernstige beserings opgedoen en is na die Natalspruit-hospitaal geneem vir verdere behandeling. Die 24-jarige man het per voet van die polisie probeer vlug maar is deur gemeenskapslede voorgekeer. Mokheseng sê die man het nie ʼn bestuurslisensie nie en woord aangekla van roekelose en nalatige bestuur, strafbare manslag en bestuur onder die invloed van alkohol. Die man sal binnekort in die Germiston-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.