Die man wat Maandag by Parrots-restaurant in die Menlyn-winkelsentrum geskiet is, het Dinsdag in die hospitaal gesterf.
LookLocal berig Osmani Makhlouf (38) van Witbank, het in die Steve Biko-hospitaal aan sy beserings beswyk. Makhlouf is Maandag vier keer in sy rug geskiet, het Annabel Middleton, woordvoerder van die polisie, gesê.
Maroela Media het vroeër berig die slagoffer het middagete by die Parrots-restaurant geëet, toe die verdagte hom, net voor 14:00, vier keer met ‘n rewolwer in sy rug geskiet het. Hy het glo middagete saam met ‘n vrou geniet.
Volgens Wayne Koning, bestuurder van die restaurant, het hulle vier bestuurders die man gevolg en die vuurwapen by hom afgeneem. “As jy nie geweet het hy is die een wat geskiet het nie, sou jy dit nooit kon raai nie – so kalm was hy,” het Koning gesê. Die winkelsentrum se sekuriteit is dadelik in kennis gestel. Die verdagte is in hegtenis geneem en die polisie het beslag gelê op ‘n ongelisensieerde vuurwapen.
Volgens Middleton het die verdagte en die slagoffer vroeër saketransaksies beklink.