Man sterf tydens kaping

geweerʼn 52-jarige man is Woensdagoggend tydens ʼn kaping by sy huis in Pietermaritzburg in KwaZulu-Natal doodgeskiet.

“Die Town Hill-polisiestasie is ontbied na die man se huis in Chase Valley,” het kol. Jay Naicker, ʼn polisiewoordvoerder, gesê. “Die polisie en paramedici van Netcare 911 het die man, Clement Bongani Zondi, op sy grasperk binne sy erf aangetref. Hy is in die bors geskiet.”

Paramedici het probeer om Zondi te stabiliseer, maar sy toestand het versleg en hy is op die toneel dood verklaar.

“Daar word vermoed dat Zondi, ʼn taxibaas wat in die Sobantu-omgewing werksaam is, by sy huis aangekom het nadat hy by die gimnasium was. Hy is deur ʼn verdagte oorval toe hy uit sy voertuig geklim het.”

Volgens Naicker het die verdagte Zondi een keer in die bors geskiet en met sy Toyota Hilux-bakkie gevlug.

Sy huishulp het die skoot gehoor en dadelik die polisie ontbied.

Sy bakkie is later verlate in Plessislaer aangetref. Zondi se selfoon word vermis.

Die motief vir die moord is nog nie bekend nie en niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Die polisie ondersoek ʼn saak van kaping en moord.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.