ʼn Jong man is dood nadat hy Sondag van ʼn boot geval het terwyl hy saam met vriende visgevang het by Umdloti aan die KwaZulu-Natalse noordkus.
ʼn Woordvoerder van Netcare911, Chris Botha, sê die 20-jarige man het saam met ʼn vriend visgevang toe een van die mans ʼn groot vis gevang het. Die 20-jarige man het glo probeer om die lyn in te trek toe hy van die boot geval het. Sy vriend het ingeduik en hom probeer red toe hy ook in die moeilikheid beland het. ʼn Omstander het albei mans uit die water getrek en mond-tot-mond-asemhaling op die 20-jarige man begin toepas. Hy is egter op die toneel dood verklaar. Die man se vriend was ongedeerd.