Een man is dood en drie word in die hospitaal behandel nadat hulle by ʼn fabriek in Pretoria gas ingeasem het.
Santi Steinmann, ʼn woordvoerder van Netcare 911, sê die voorval het Vrydagoggend by ʼn steenfabriek in Eersterust plaasgevind. “Vier mense het die gas ingeasem. Paramedici het alles in hul vermoë gedoen om ‘n man te probeer red, maar was onsuksesvol. Hy is op die toneel dood verklaar,” het Steinmann gesê.
Die ander drie mans is op die toneel gestabiliseer en na die Netcare Montana-hospitaal geneem vir behandeling. Die departement van arbeid ondersoek die voorval.