Man uit brandende kar gered

Chadley Theron, ‘n bestuurder van ‘n insleepvoertuig het oor die naweek ʼn man uit ʼn brandende voertuig gered.

Die Daily Voice berig Maandag dat die 25-jarige Ruan Heynse sy bewussyn verloor het ná ‘n ongeluk met sy voertuig Saterdag op die N1-deurpad naby Kraaifontein, Kaapstad.

Theron was in die omgewing en het na die toneel gejaag. “Toe ek daar aankom was die voertuig aan die brand. Ek het probeer om die bestuurder se deur oop te maak, maar niks het gebeur nie. My gesig het al gebrand van die hitte. Ek het na die passasierskant gehardloop en kon gelukkig dié deur oop kry,” het Theron gesê.

Theron het Heynse aan sy skouers uit die voertuig getrek.

“Ek het die heeltyd gedink die kar kan enige oomblik ontplof,” het Theron bygevoeg.

Heynse herstel in die hospitaal en word behandel vir ʼn gebreekte been en brandwonde.

Theron het Saterdag 37 jaar oud geword en sê hy sal nooit vergeet dat hy iemand se lewe op sy verjaardag kon red nie.

– Sapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.