Bruce Galloway (59) is Dinsdagoggend omstreeks 04:00 van sy huis in Kloof, KwaZulu-Natal, ontvoer.
ʼn Vriend van die familie het Dinsdag aan Maroela Media bevestig Galloway is ontvoer. Daar is glo tekens van ʼn struweling, en sy bril en selfoon is ook in ʼn bos langs sy motor opgespoor. Sy voertuig is steeds in die oprit by sy huis in Intenguweg 10, Kloof. Sy beursie is nog in die motor, maar dit lyk of iemand die beursie deursoek het, aangesien van die bankkaarte op die vloer gelê het.
“Alles wat ons kon gebruik om hom moontlik mee op te spoor, is agter gelaat,” het die vriend aan Maroela gesê. Galloway was glo onderweg na Mthata in die Oos-Kaap vir ʼn vergadering.
“Ons het kringtelevisiebeeldmateriaal van ʼn buurman bestudeer, maar aangesien dit slegs ʼn infrarooi-kamera is, kan mens nie die nommerplaat van die voertuig, waarmee Galloway moontlik ontvoer is, sien nie.”
Die polisie en speurders is ontbied en is tans op soek na Galloway. Enigiemand met meer inligting word versoek om met die polisie in verbinding te tree.