Man van Mosselbaai voor seun doodgeskiet

Waldemar Strauss, ʼn 42-jarige man van Mosselbaai, is Woensdag in die vroeë oggendure voor sy 11-jarige seun deur ʼn groep gewapende mans in sy huis doodgeskiet.

Kapt. Bernadine Steyn, ʼn polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê ʼn onbekende hoeveelheid mans het Strauss se huis in Moquinistraat in Danabaai binnegegaan terwyl die gesin geslaap het. Hulle was met messe en gewere gewapen. “Die mans het na Strauss se 11-jarige seun se kamer gegaan, hom wakker gemaak en na sy ouers se slaapkamer gedwing, waarna die rowers die egpaar wakker gemaak het. Die egpaar se 7-jarige seun is ongedeerd in sy kamer gelos waar hy geslaap het,” het Steyn gesê.

Volgens Steyn is Strauss en sy vrou met gordels vasgebind. Twee van die rowers het sy vrou na die huis se grondverdieping gesleep, waar sy gedwing is om ʼn kluis oop te maak. Strauss is in hul slaapkamer gedwing om ʼn tweede kluis oop te maak. ʼn Man het Strauss kort daarna noodlottig in die kop geskiet terwyl die seun nog in die kamer was. “Die rede hiervoor is nog onbekend in die stadium en word ondersoek,” het Steyn gesê. Sy sê ook dit is nog onduidelik hoe die mans toegang tot die huis gekry het.

Die groep mans het te voet met vuurwapens, selfone en juweliersware gevlug. Die Wes-Kaapse polisie het ʼn volskaalse soektog na die groep mans van stapel gestuur.

Die polisie versoek enigiemand met inligting oor die voorval of waar die mans hul mag bevind, om ao. Errol Barnard by 044 606 5609 te skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.