Die kuswag in Amerika is tans op soek na ʼn passasier van Kanada wat naby ʼn eiland in Puerto Rico glo van ʼn passasierskip af gespring het.
Dit was Tien Phuoc Nguyen (26) van Kanada se laaste aand ná ʼn sewe dag lange vaart saam met sy gesin aan boord die passasierskip van Royal Caribbean Cruises. Ander passasiers het glo gesien hoe hy Saterdagaand oorboord gespring het. Die voorval het oos van Mona-eiland in die see tussen Puerto Rico en die Dominikaanse Republiek plaasgevind.
Cynthia Martinez, woordvoerder van Royal Caribbean, het Sondag gesê die kaptein het dadelik die Adventures of the Seas gestop, omgedraai en plaaslike owerhede in kennis gestel. Beeldmateriaal van die voorval is ook op ʼn selfoonkamera vasgelê, het Martinez bygevoeg.
Die kuswag het helikopters en ʼn patrolliebooot ontplooi om die man op te spoor, maar hy word steeds vermis. Die FBI ondersoek die omstandighede wat moontlik daartoe kon lei dat die man van die skip af gespring het.
Die passasierskip het sy reis na San Juan in Puerto Rico voortgesit nadat die Amerikaanse kuswag die soektog oorgeneem het. ʼn Span van Royal Caribbean verleen glo ondersteuning aan Nguyen se familie.