Man vas na hoewe-aanval in Muldersdrift

ʼn Man is in Muldersdrift in hegtenis geneem waarna die polisie beslag gelê het op twee pistole, ʼn blou lig, ʼn polisiesirene en ʼn vermoedelik gesteelde motor.

Lt. Kol Lungelo Dlamini, ʼn polisiewoordvoerder, sê die 33-jarige man is Saterdag in hegtenis geneem nadat die twee pistole in ʼn sak in sy hotelkamer gevind is. “Ons glo dat sy arrestasie sal lei tot ʼn deurbraak in die ondersoek na verskeie misdade soos moord, kapings en huisrooftogte in die gebied en ander areas in die provinsie.” Die polisie het die man se motor deursoek waarna daar beslag gelê is op die blou lig en polisiesirene. Die motor is ook vermoedelik gesteel. Die man se arrestasie kom na ʼn hoewe-aanval Vrydagaand in Muldersdrift waartydens een persoon doodgeskiet is en nog ʼn persoon gewond is. Dlamini sê die rowers het met ʼn selfoon en R400 gevlug. Die man sal na verwagting vandag in die Krugersdorp-landdroshof verskyn.

Muldersdrift loop die afgelope paar maande erg deur onder misdaad. Verlde maand is Jacques Botha drie keer in die maag geskiet. Hy is in die hospitaal oorlede. Alyssa Botha (13), ’n gr. 8-leerling aan die Hoërskool Monument in Krugersdorp, is in September vanjaar op haar ouers se hoewe doodgeskiet vir haar selfoon. Haar pa en suster is ook in die aanval gewond. Sowat ʼn week later is Andre Jordaan (50), wat in dieselfde straat as Alyssa en haar gesin gewoon het, sewe keer geskiet terwyl hy sy gesin van ‘n rowerbende probeer beskerm het. Jordaan is in die aanval dood. Drie mans is in hegtenis geneem in verband met die moorde op Alyssa en Jordaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.