Man vas na hy glo vrou verkrag

ʼn Man is in hegtenis geneem nadat hy glo Saterdagoggend ʼn vrou verkrag het in Vaalpark in Sasolburg.

ʼn Polisiewoordvoerder, konst. Peter Kareli, sê die vrou het glo twee kinders by ʼn huis opgepas toe ʼn man haar omstreeks 01:00 Saterdagoggend uit haar bed getrek het. “Die man wat haar verkrag het, is glo die eienaar van die huis se broer. Hy het glo vir haar gesê om nie te skree nie en haar na ʼn ander kamer gesleep waar hy haar ʼn paar keer verkrag het.” Die kinders het glo begin huil toe hulle gesien het die vrou is nie meer in die kamer nie, en het hulle tannie wat in ʼn ander kamer lê en slaap het wakker geword. Die tannie het glo vir die vrou begin soek en het die eienaar van die huis, wat in Bloemfontein was, in kennis gestel. Die eienaar het die polisie gekontak. Kareli sê die tannie het toe glo ʼn geluid gehoor onder die man se bed, waar sy die vrou halfkaal gevind het. Die polisie het die man in hegtenis geneem en hy sal na verwagting Maandag in die Sasolburg landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.