Man vas na polisieman se ontvoering, moord

‘n Man is in hegtenis geneem vir die ontvoering en moord van ‘n polisiebeampte in Pretoria.

“Die 57-jarige man is Vrydagaand in hegtenis geneem en die polisie het beslag gelê op sy voertuig,” het lt.kol. Lungelo Dlamini, woordvoerder van die polisie in Gauteng, gesê.

Maj. Abram Tselana (45) is op 31 Desember laas gesien toe hy geld by ‘n bank in Pretoria se middestad onttrek het. Sy liggaam is vier dae later met ‘n kopwond naby Paul Krugerstraat in Pretoria opgespoor.

Dlamini sê Tselana het glo R23 000 uit sy bankrekening onttrek voordat twee mans en ‘n vrou hom genader het. “Hy het later saam met hulle in ‘n rooi Volkswagen Jetta geklim,” het hy gesê. Die geld is nie by die liggaam opgespoor nie.

Die man wat in hegtenis geneem is, is glo die eienaar van die rooi Volkswagen Jetta. “Vermoedelik was die man deel van die verdagtes wat die oorledene ontvoer het.” Die polisie is steeds op soek na die twee mans en vrou wat saam met Tselana gesien is.

Die man sal Maandag in die Pretoriase landdroshof verskyn op aanklag van ontvoering en moord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.