ʼn Man is in hegtenis geneem nadat hy glo verlede maand ʼn verkeersbeampte in Durban, KwaZulu-Natal doodgery het.
Kwanele Ncalane, woordvoerder van die provinsiale departement van gemeenskapsveiligheid, sê die 24-jarige verdagte is die naweek in KwaLanga in Kaapstad in hegtenis geneem. Hy word daarvan beskuldig dat hy Thuli Nhlengethwa (35) op 22 September op die N2 naby die Spaghetti-aansluiting doodgery het. Nhlengethwa het ʼn silwer Audi wat teen 141km/h gery het van die pad probeer aftrek toe sy doodgery is. Ander verkeersbeamptes het die motor agternagesit. Die bestuurder van die Audi het langs die pad gestop en weggehardloop. Daar is later vasgestel dat die Audi vroeër in Roodepoort, Gauteng gesteel is. Die verdagte sal binnekort in die hof verskyn.