ʼn 35-jarige man wat van omkopery beskuldig word, is Vrydag in Scottburgh, KwaZulu-Natal, in hegtenis geneem.
“Hy is by die Scottburgh-landdroshof in hegtenis geneem toe hy ʼn ondersoekbeampte, wat sy broer se saak ondersoek, wou omkoop,” het kapt. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, gesê. “Hy het die ondersoekbeampte R5 000 aangebied sodat sy broer se aansoek om borgtog nie teengestaan sal word nie en hy dus uit aanhouding vrygelaat sou word.”
Die ondersoekbeampte het senior beamptes hieroor ingelig. ʼn Lokval is vir die man gestel en hy is in hegtenis geneem.
Die man sal Maandag in die Scottburgh-landdroshof verskyn.
Zwane het gesê die man is ʼn uitlander, maar weet nie wat die man se nasionaliteit is nie. Hy is ook nie seker waarom die man se broer in aanhouding is nie.