ʼn Man is Donderdag in hegtenis geneem in verband met die moord op Wesley Woodman, ʼn verkeersbeampte van Kaapstad. Woodman (35) en ʼn motoris is Woensdag omstreeks 09:00 in Prince Georgeweg in Lavender Hill doodgeskiet.
Woodman was aan diens en het ʼn Toyota Corolla van die pad af getrek oor ʼn stukkende agterlig. Die verdagte het Woodman van agter af genader en op hom losgebrand. Die motoris van die Toyota is ook getref en is op die toneel dood verklaar. Woodman het later in die hospitaal aan sy beserings beswyk.
Kaptein FC van Wyk, ʼn polisiewoordvoerder, sê die Steenberg-polisie het die 26-jarige verdagte in Parkwood Estate in hegtenis geneem en op twee vuurwapens beslag gelê.
“Een van die vuurwapens het aan Woodman behoort. Die verdagte gaan Vrydag in die Wynberg-landdroshof verskyn op twee aanklagtes van moord,” het Van Wyk gesê.