Man vas wat glo eksmeisie se kind verwurg

Edgar Sydwell (30), van Mpumalanga het Maandag in die Mhala-landdroshof verskyn nadat hy glo onlangs glo sy eksmeisie se sewejarige dogter vermoor het.

Sydwell, wat ook die vanne Mabaso en Mabunda gebruik, is op 8 Augustus in hegtenis geneem, het brig. Selvy Mohlala, woordvoerder van die polisie in Mpumalanga, gesê.

Mohlala sê die meisie was saam met ʼn familielid en ʼn vriend, onderskeidelik 10 en ses jaar oud, onderweg na hul skool in Acornhoek toe Sydwell haar glo voorgekeer en voorgegee het om die kinders na die skool toe te vergesel. “Hy het egter die slagoffer gegryp en in ʼn ander rigting in beweeg en met die kind in ʼn veld in verdwyn,” het Mohlala gesê.

Sydwell het daarna sy eksmeisie gebel en gesê hy het haar dogter ontvoer en vermoor. Die ma het die polisie ontbied wat die gebied, waar hy vir die laaste keer gesien is, gefynkam het. “Die polisie het daar op die naakte liggaam van die meisie afgekom,” het Mohlala bygevoeg.

Volgens Mohlala wil dit voorkom asof sy verwurg is. Sydwell kon na die voorval daarin slaag om die polisie te ontduik, maar hy is uiteindelik op 8 Augustus aangekeer.

Die saak is tot 19 Augustus uitgestel. Hy bly in die polisie se aanhouding tot dan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.