ʼn Man van die Wes-Kaap is Donderdagoggend in Pringlebaai dood nadat ʼn golf hom van die rotse af gestamp het.
Craig Lambinon, woordvoerder vir die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), het gesê die man en sy vriend het glo op die rotse staan en kreef vang toe hulle omstreeks 08:30 deur die golf getref is. “ʼn Privaat ambulans het reeds een man behandel toe NSRI op die toneel gekom het. Die man kon glo terugswem strand toe,” het Lambinon gesê.
ʼn Helikopter het die tweede man in die golwe opgemerk en ʼn reddingswemmer het ingespring om hom met ʼn statiese lyn in die lug op te trek. Die man is op die strand dood verklaar.