Man verloor been ná seekoeibyt

Anthony Swatton van Ezemvelo KZN-wildreservaat is Donderdag by sy huis in St. Lucia deur ‘n seekoei aangeval en gebyt.

Siyabonga Mhlongo, woordvoerder van iSimangaliso Vleilandpark, sê Swatton moes ‘n noodoperasie ondergaan en is in ‘n ernstige, maar stabiele toestand. Hulle moes ongelukkig sy been amputeer, berig IOL.

Swatton is Donderdagaand deur die groot seekoeibul aangeval toe hy uitgegaan het om te sien waarom sy hond blaf. “Die dier was moontlik verras deur Swatton se teenwoordigheid en het hom in sy linkerbeen gebyt. ‘n Tand het ook Swatton se maag deurboor,” het Mhlongo gesê. Die dier het toe glo aanhou wei in die tuin terwyl die bure en dokters ontbied is. Swatton is Donderdagaand opereer en is na ntensiewe sorg oorgeplaas.

Owerhede het die seekoei later die aand in verskeie ander erwe opgemerk en kon nie enige buitengewone aggressiewe gedrag of ongewone optrede bespeur nie. Die parkeraad sal die seekoei dophou om te besluit of dit na ‘n ander park geskuif moet word.

“Seekoeie word gereeld in St. Lucia se strate en tuine opgemerk en inwoners word gereeld gewaarsku dat hulle gevaarlike diere is, veral indien hulle bedreig voel,” het Dave Cooper, ‘n veearts by Ezemvelo KZN-wildreservaat gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.