Man vir misterieuse swart sakke doodgeskiet

crime-scene-tape-320x191ʼn Man is Woensdag in Kensington, Johannesburg, doodgeskiet terwyl hy bestuur het.

“Paramedici het probeer om die man by te bring, maar hy was reeds dood,” het Vanessa Jackson, ʼn woordvoerder van ER24, Donderdag gesê.

Kol. Noxolo Kweza, ʼn polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig. “Die man is ongelukkig op die toneel dood verklaar,” het Kweza gesê. “Ons kan nie tans sê hoe die man dood is nie. ʼn Nadoodse ondersoek sal gedoen word.”

Beeld het Donderdag berig dat twee mans in ʼn VW Golf, wat nie nommerplate op gehad het nie, op die BMW X5 losgebrand het. Die bestuurder van die BMW het beheer verloor en die voertuig het deur die heining van ʼn sportveld by Hoërskool Jeppe gebars en tot stilstand gekom.

Saadz Asvat, ʼn ooggetuie, het aan die koerant gesê die twee mans het daarna uit die Golf geklim, die BMW se bestuurder geskiet, waarna hulle drie groot swart sakke uit die BMW se kattebak gehaal en gevlug het.

Sers. Bongi Mdletshe, ʼn polisiewoordvoerder, het gesê dit is nie bekend wat in die swart sakke was nie. Hy het gesê daar was ses koeëlgate in die deur aan die bestuurder van die BMW se kant.

Die slagoffer was glo van die Diamond Centre in Johannesburg se middestad op pad na Bedfordview, waar hy saam met sy tannie woon.

Die polisie ondersoek ʼn saak van moord en roof.

– SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.