Man voor gesin by braai doodgeskiet; twee “rowers” sterf ook

geweerInwoners van die Malelane- en Hectorspruit-omgewing is geskok nadat twee gewelddadige aanvalle oor die naweek daar plaasgevind het. In die eerste voorval is ʼn man in sy kombuis geskiet, en in die tweede voorval is ʼn ander man in hul lapa doodgeskiet terwyl hy en sy gesin gebraai het.

Sers. Gerald Sedibe, ʼn polisiewoordvoerder van Mpumalanga, het Dinsdag aan Maroela Media gesê tydens die eerste voorval is ʼn man van Malelane, Pieter Slabbert (51), geskiet en gewond toe twee gewapende mans hom en sy familie op hul plaas, Q-Rare, oorval het.

“Slabbert, sy vrou en hul dogter was omstreeks 16:40 in hul kombuis. Die bokant van die kombuisdeur was oop en die twee verdagtes het daardeur gespring en toegang tot die huis gekry,” het Sedibe gesê. Hulle het dadelik op Slabbert begin skiet. Vier skote is gevuur, maar slegs twee koeëls het hom getref. Hy is ook met ʼn mes gesteek.

Slabbert se vrou en hul 22-jarige dogter het intussen in ʼn kamer in die huis gaan wegkruip. Die twee mans, een gewapen met ʼn vuurwapen en die ander met messe, het Slabbert se vrou, Lizelle, en dogter ook aangerand waarna hulle te voet van die toneel gevlug het met ʼn skootrekenaar en selfone.

Slabbert is na die hospitaal gehaas en teen Dinsdag was hy in ʼn stabiele toestand in die Mediclinic Nelspruit. Die polisie ondersoek ʼn saak van huisbraak en poging tot moord. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Enigiemand met meer inligting oor die voorval, word versoek om lt. Pat Banda by 082 449 0291 te skakel.

In die tweede voorval is Leon Christo Clur, ʼn inwoner van Hectorspruit, Sondagaand by sy huis se lapa geskiet terwyl hy en sy gesin gebraai het.

“Twee gewapende mans het die gesin omstreeks 20:00 oorval terwyl hulle besig was om te braai. Clur en die mans het in ʼn geveg betrokke geraak, maar die mans het hom oorweldig en op die grond vasgepen, waarna een van die mans hom in die agterkant van sy kop geskiet het. Hy is later in die hospitaal dood.” Clur se vrou, Marli, het gepleit en vir hulle gesê hulle kan enigiets vat wat hulle wil hê. Die mans het op geld aangedring. Hulle is saam met haar in die huis in waar hulle twee skootrekenaars, twee selfone, Clur se beursie, ʼn jaggeweer en ʼn haelgeweer en ammunisie gesteel het. Hulle het daarna te voet gevlug.

“Die polisie, plaaslike buurtwag en veiligheidsmaatskappye het dadelik na die mans begin soek. Hulle het later op van die gesteelde goedere in ʼn veld afgekom. Die soektog het voortgegaan en Maandagoggend omstreeks 02:00 is twee verdagtes naby ʼn treinspoor in ʼn veld gewaar. Die polisie het die verdagtes opdrag gegee om stil te staan waarna die twee mans gewere op die polisie gerig het. Die polisie het dadelik reageer en geskiet voor die verdagtes op hulle kon skiet. Albei mans is noodlottig gewond. Die polisie het beslag gelê op die vuurwapens wat moontlik aan Clur behoort.”

Die polisie ondersoek ʼn saak van moord en huisbraak. Volgens Sedibe is dit nog nie duidelik of die twee voorvalle verbind kan word nie.

ʼn Inwoner van die Onderberg-omgewing, wat anoniem wil bly, het aan Maroela Media gesê inwoners in die gebied word al vir die afgelope drie maande “geteiken”. “Aanvalle vind selfs helder oordag plaas. Ons het al so te sê almal handradio’s in ons huise en paniekknoppies waarop almal in die omgewing reageer. Ons wil nie eens meer buite wees deur die dag nie. Hulle voer ‘n skrikbewind,” het die inwoner gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Eugenie ·

Mag ek juig oor die twee moordenaars se dood?

Baie sterkte aan elke oorlewende, ons is net mooi nêrens veilig nie, terwyl Zuma in luuksheid leef, lyfwagte, en alles op die belastingbetaler se onkoste.

Ek stem saam, die SAPD skiet deesdae te maklik, maar in dié geval, ek sou ook skiet om dood te skiet.

Marieta ·

Ek stem saam, Eugenie. As hulle erger as hondsdol diere optree, verdien hulle om soos honsdol diere doodgeskiet te word.

Eben ·

Sers. Gerald Sedibe lig jou eie dik allie en soek self. Vang ons die gemors dan kan ons maklik medepligtig wees. Nee dankie doen jou eie werk want jy woed betaal daarvoor …. Kom-kom lig jou en begin werk

Adriaan ·

Die dood van die “dodenaars” mag die wraaklus van die oorlewendes dalk stil, maar niks kan die pyn van wat werklik gesteel is (Leon Christo Clur se lewe), stil nie. Dank aan die polisie vir hul harde optrede. Die dood van die twee rowers kan as polisie brutaliteit beskou word, maar dit is net wat SA nodig het om misdaad en die hoë vlakke van plaasmoorde te bekamp.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.