Man wat by Alzheimer-pasiënt steel, sit lank

ArgieffotoJohn Julyan (57), ʼn voormalige verhoudingsbestuurder by Barclays Wealth, ʼn afdeling van Absa, is Donderdag tot 15 jaar tronkstraf gevonnis weens bedrog ter waarde van R15 miljoen.

Julyan, wat ook ʼn gekwalifiseerde hoërskoolonderwyser is, het in Kaapstad voor landdros Amrith Chabillal in die Bellville gespesialiseerde handelsmisdaadhof verskyn. Chabillal het gesê hy hoop Julyan sal sy talent as onderwyser gebruik om diegene, wat saam met hom in die tronk is, “te verbeter en op te lei”.

Julyan het gekwalifiseer vir die minimum vonnis van 15 jaar vir ʼn eerste oortreding vir bedrog ter waarde van meer as R500 000. Chabillal het beslis dat die omstandighede, wat deur Julyan se prokureur William Booth as “wesenlik en dwingend” aangebied is om ʼn ligter vonnis op te lê, bloot “normale omstandighede” is.

Julyan sal na verwagting appelleer teen die vonnis.

Chabillal sê die hoër hof het die laer hof versoek om nie van die voorgeskrewe minimumvonnisse af te wyk vir “flou” verskonings nie.

Staatsaanklaer Juan Agulhas het aan die hof gesê Julyan het byna met die “perfekte misdaad” ontsnap. As verhoudingsbestuurder het hy ʼn salaris van R50 000 ontvang. Hy was verantwoordelik vir ʼn multi-miljoenrandse buitelandse belegging van een van Absa se kliënte, prof. Bryan Cremin, wat voor sy afsterwe weens Alzheimer se siekte, hoof was van radiologie by die Rooikruis-kinderhospitaal in Kaapstad.

Die professor kon nie meer sy eie sake hanteer nie en Julyan het dit namens hom bestuur. Agulhas sê Julyan het die professor se toestand harteloos uitgebuit. Hy het glo gereeld groot bedrae uit Cremin se rekening na sy eie en sy vrou se bankrekening oorbetaal.

Agulhas sê Julyan het Cremin se fondse gebruik om eiendom in Knysna en in Constantia in Kaapstad aan te skaf. Hy het ook die geld gebruik om sy vrou se besigheid te probeer red. Hy het ook ʼn boot aangeskaf met die geld en sy vrou op duur vakansies na Oostenryk geneem.

Hy het selfs geld oorbetaal na sy ma se rekening om ʼn testament op te stel.

“Julyan het wegkruipertjie gespeel met die hof en hy was oneerlik in sy getuienis,” het Agulhas gesê. “Die beskuldigde het ons land in ʼn swak lig geplaas en Suid-Afrika uitgebeeld as ʼn land met korrupte inwoners.” Volgens Agulhas kan Julyan se optrede veroorsaak dat die land se kredietgradering daal en beïnvloed of ander lande bereid sal wees om sake te doen met Suid-Afrika.

Chabillal het gesê Julyan is vasgetrek deur sy besoek aan die bank om ʼn finale bedrogtransaksie, ʼn elektroniese oorplasing uit Cremin se rekening na sy eie, uit te voer. ʼn Kassier by die bank was agterdogtig en het ʼn ondersoek van stapel gestuur wat dit aan die lig gebring het dat die professor nie meer in staat is om sy eie sake te beheer nie.

“As dit nie vir daardie een laaste poging was om onwettig geld na jou eie rekening toe oor te plaas nie, sou jou dade moontlik ongesiens verby gegaan het.”

Lees ook:
Man steel R15 miljoen by Alzheimer-pasiënt

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.