ʼn 28-jarige man wat verhoorafwagtend is op ʼn rits aanklagte wat verband hou met die verkragting van 12 vroue is per ongeluk vrygelaat, het die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) gesê.
ʼn Woordvoerder van die NVG, Mthunzi Mhaga, sê Mlungisi Mtshali moes Woensdag in die hof verskyn toe daar besef is dat hy “verkeerdelik vrygelaat” is deur die departement van korrektiewe dienste. Mhaga sê Mtshali is al sedert 13 Februarie soek en dat hy glo alreeds verskeie getuies gedreig het en dat hulle “vrees vir hulle lewens.” Mtshali is deur die media gedoop as die “verjaarsdagverkragter” aangesien hy aan jong vroue gesê het dit is sy verjaarsdag en hulle dan saamgenooi het om dit saam met hom te vier. Hy sou hulle dan later vra om saam met hom te ry om sy suster se vriend te gaan haal. Mtshali het dan glo die vroue in ʼn hotelkamer ingelok waar hy hulle verkrag het. Hy staan tereg op 120 aanklagte waaronder verkragting, bedrog, diefstal en ontvoering. Die DKD het volgens Eyewitness News gesê Mtshali is vrygelaat nadat hy drie maande tronkstraf op ’n ander aanklag uitgedien het.