Man wat glo meisie buite skool wou gryp borg geweier

Mohammed Adams (21) word van poging tot menseroof aangekla nadat hy Amanda Schmidt glo op 18 Oktober buite die Hoërskool Die Burger se hoofhek met ’n skroewedraaier gedreig en in sy voertuig se kattebak probeer dwing hetFoto: Werner Beukes/SAPA

Die man wat glo probeer het om ’n 18-jarige meisie buite ’n skool in Roodepoort te ontvoer, is Dinsdag borg geweier in die Roodepoort landdroshof.

Landdros John Baloyi sê dit sal nie in belang van geregtigheid wees om borg aan Mohammed Adams (21) toe te staan nie. Die saak is uitgestel tot 23 November. Adams het in trane uitgebars terwyl Baloyi redes aangevoer het vir die weiering van borg. Baloyi het onder meer gesê dit is kommerwekkend om te dink wat moontlik kon gebeur het indien ʼn veiligheidswag nie daarin kon slaag om Adams van die skool te verjaag nie. Adams word van poging tot menseroof aangekla nadat hy Amanda Schmidt glo op 18 Oktober buite die Hoërskool Die Burger se hoofhek met ’n skroewedraaier gedreig en in sy voertuig se kattebak probeer dwing het. Dit het gebeur enkele dae nadat ’n leerling van dieselfde skool, Louise de Waal (16), daar naby ontvoer en later verkrag en vermoor is. Die hof het vroeër gehoor dat Schmidt omstreeks 5:45 op 18 Oktober deur haar ouers by die skool afgelaai is. Volgens ʼn veiligheidwag het Adams kort hierna in ʼn silwer motor by die skool opgedaag. Hy het glo uit die motor geklim, die kattebak oopgemaak, ʼn skroewedraaier uitgehaal en na Schmidt gestap. Adams het Schmidt glo aan haar elmboog en trui na die motor probeer trek terwyl sy geskree het. Die veiligheidswag het glo nader gestap en op Adams geskree waarna hy gevlug het. Adams het vroeër erken dat hy die oggend by die skool was. Schmidt se ma het die uitspraak verwelkom. “Nou kan my dogter eksamen skryf sonder om bekommerd te wees.” Adams se familie was baie ontsteld. Sy vrou het in trane uitgebars.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.