Man wat glo vrou laat verkrag, seun doodskiet, dalk binnekort vas

Die polisie het Woensdagmiddag dié foto uitgestuur van Johan Kotze wat 'n verdagte is in die saak.

Die polisie in Limpopo is oortuig dat Johan Kotze, die 51-jarige man wat vir die moord op sy stiefseun en aanslag op sy vervreemde vrou verdink word, binnekort in hegtenis geneem sal word.

“Ons is besig om baie goeie leidrade te volg… van ons manne is besig om hom op te spoor. Ons is oortuig dat hy in hegtenis geneem sal word. Ons hoop dat dit vandag nog sal gebeur,” het brigadier Hangwani Mulaudzi, kommunikasiehoof van die polisie in Limpopo, Donderdag gesê. Johan Kotze, wie se identiteitsdokument aandui dat hy in Namibië gebore is, het glo Dinsdag drie mans in sy huis met ‘n geweer gedwing om sy vervreemde vrou om die beurt te verkrag en haar liggaam te skend. Hy het daarna glo sy 19-jarige stiefseun na sy huis gelok en hom doodgeskiet. Beeld berig Donderdag dat hy glo sy vrou na sy huis gelok het om hul huwelik te bespreek en ook sy stiefseun geskakel het en glo gesê het dat hy met hom wil gesels. Toe die seun opgedaag het, het Kotze hom glo gedwing om in ‘n kamer in te gaan en hom toe geskiet. Volgens die dagblad het hy ‘n brief op die toneel gelos. “Ek is moeg vir die lewe en moet my nie soek nie,” het Kotze glo gesê. Die man het toe in sy wit Toyota Fortuner met registrasienommer DCS392FS gevlug. Die drie werknemers het ook glo weggehardloop en hulle word ook steeds vermis. Volgens Mulaudzi is dit nie bekend of die drie mans reeds voor die tyd vir Kotze gewerk het, en of hy hulle net in die dorp gekry het om ‘n tydelike werk by sy huis te verrig nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Emile ·

Mens mag nie oordeel nie maar volgens berigte is vriend Kotze nie ‘n engeltjie. Maar nou het hy te ver gegaan. Dis jammer die doodstraf is afgeskaf want ek dink dit is wat hy verdien.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.