Man wat glo vrou laat verkrag, stiefseun skiet: mensejag is aan!

Die 51-jarige Johan Kotze wat gesoek word vir die aanval op sy vervreemde vrou en die moord op sy stiefseun is nie meer in Limpopo nie, het die provinsiale polisie Vrydag gesê.

“Ons het te make met ʼn intelligente man, hy is ontwykend. Hy is nie in Limpopo nie, maar ons is besig om al hoe nader aan hom te kom en ons sal hom gryp,” het brigadier Hangwani Mulaudzi gesê. “Ons het die span speurders en spoorsnyers vermeerder. Ons werk saam met die Valke en ek is oortuig dat hy binnekort vasgetrek sal word.” Mulaudzi het gesê hulle vermoed iemand is besig om hom van inligting te voorsien. Hy het berigte dat Kotze in Kimberley in die Noord-Kaap opgemerk is, afgemaak. Kotze, wie se identiteitsdokument aantoon dat hy in Namibië gebore is, het Dinsdag glo drie mans, wat glo sy werkers was, met ʼn geweer gedreig om sy vervreemde vrou in sy huis in Modimolle om die beurt te verkrag en haar liggaam te skend. Hy het toe glo sy 19-jarige stiefseun na sy huis gelok en hom toe doodgeskiet. Beeld het Vrydag berig dat die 19-jarige universiteitstudent aanhoudend gepleit het dat hy sy lewe moet spaar. Die seun, Conrad Bonnette, het glo aanhoudend gesê: “Oom, moet my asseblief nie skiet nie.” Die seun is in sy kop en bors geskiet. Volgens Mulaudzi is die vrou Donderdag na die hospitaal geneem vir observasie. “Ons het haar na die hospitaal toe geneem. Sy het nie lekker gevoel nie en ons hoop dat sy vandag [Vrydag] ontslaan sal word.”

Kotze het glo in sy wit Toyota Fortuner met registrasienommer DCS392FS gevlug. Die drie werkers het glo weggehardloop en is ook steeds soek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jan Serfontein ·

Vang hom verhoor hom en as hy skuldig bevid word hang hom PUNT.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.