Man wat glo vrou laat verkrag, stiefseun vermoor: Interpol en Valke word betrek

Johan Kotze, die man wat daarvan verdink word dat hy sy vervreemde vrou laat verkrag en sy stiefseun doodgeskiet het. Foto verskaf deur die SAPD

Die man wat daarvan verdink word dat hy ʼn grusame aanval op sy vervreemde vrou beplan en sy tienderjarige stiefseun in Modimolle vermoor het, sal eersdaags in hegtenis geneem word, het die polisie in Limpopo Maandag gesê.

“Ons staan op die rantjie van ʼn deurbraak, sy inhegtenisname is om die draai,” het brigadier Hangwani Mulaudzi van Johan Kotze gesê. “Dit is nou net ʼn kwessie van tyd.” Die polisie het Maandagoggend die Valke en kriminele intelligensie ook by die saak betrek. “Ons is op sy hakke, maar ek kan nie enige verdere inligting aan julle deel nie omdat dit moontlik die ondersoek kan benadeel.” Die vrou is glo Maandag uit die hospitaal ontslaan. The Star het Maandag berig dat Interpol, ʼn internasionale polisie-organisasie, ook gevra is om op die uitkyk te wees vir Kotze.

Kotze, 50, het glo drie mans wat sy werkers was, gedwing om sy vervreemde vrou op 3 Januarie in sy huis in Modimolle om die beurt te verkrag en haar liggaam te skend. Luidens berigte in die media en polisieverslag het Kotze ook sy 19-jarige stiefseun na sy huis gelok en hom toe doodgeskiet. Volgens Mulaudzi dui Kotze se identiteitsdokument aan dat hy in Namibië gebore is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.